Frankfurt am Main

Frankfurt am Main

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Hesse
 Koördinate 50°7′N 8°41′O / 50.117°N 8.683°O / 50.117; 8.683
 Stigting 22 Februarie 794
 Stadstatus 1220 (Vrye Ryksstad)
 Oppervlakte:  
 - Totaal 248,31 vk km
 Hoogte bo seevlak 112 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2020) 764 104[1]
 - Bevolkingsdigtheid 3 077/vk km
 - Metropolitaanse gebied 2 300 000
 - Metropolregion Rhein-Main 5 800 000
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10,1 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 1,6 / 19,4 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 611 mm
 Burgemeester Mike Josef
 Amptelike webwerf frankfurt.de

Frankfurt am Main (Duits: [ˈfʁaŋkfʊɐ̯t am ˈmaɪ̯n], ) is met 'n bevolking van meer as 764 000 die grootste stad van die deelstaat Hesse en die vyfde grootste stad van DuitslandBerlyn, Hamburg, München en Keulen. Die metropolitaanse gebied van Frankfurt am Main het 2,3 miljoen inwoners.[2] Die Frankfurt Rhein-Main-streek het 'n bevolking van meer as vyf miljoen en is die tweede grootste ekonomiese spilpunt in Duitsland.

Nizza-Ufer langs die Mainrivier: Plataanbomelaan in November

Frankfurt am Main het reeds in die Middeleeue een van Duitsland se belangrikste stedelike sentra geword. Die eerste historiese verwysing na die stad dateer uit die jaar 794, en sedert die Hoë Middeleeue het Frankfurt die status van 'n Vrye Ryksstad geniet. Tot in die jaar 1806 het Frankfurt as die verkiesings- en kroningsstad van die keisers van die Heilige Romeinse Ryk gedien. Die stad was sedert 1806 die administratiewe setel van die Duitse Bond en in 1848/49 ook die setel van die eerste Duitse parlement wat vry verkies is.

Die stad speel 'n belangrike rol in die wêreldekonomie. As die setel van die Europese Sentrale Bank, die Frankfurtse Effektebeurs en die Frankfurtse Handelskou is dit die belangrikste finansiële sentrum in Duitsland. Die Lughawe Frankfurt was in 2018 met meer as 69,5 miljoen passasiers die grootste in Duitsland en een van die belangrikste lughawens wêreldwyd.[3] Naas die lughawe dra Frankfurt se sentrale ligging in Europa, sy hoofstasie en sy kruispunte van belangrike snelweë by tot sy rol as groot Europese vervoerspilpunt.

Danksy die handel en talle nywerhede is Frankfurt am Main een van die Europese stede met die hoogste bruto geografiese produk (per capita) en saam met Parys en Moskou een van min Europese stede waar 'n groot aantal wolkekrabbers in die sentrale besigheidsdistrik opgerig is.

  1. (de) "Bevölkerung in Hessen am 31. Desember 2020 nach Gemeinden (Landkreise und kreisfreie Städte sowie Gemeinden, Einwohnerzahlen auf Grundlage des Zensus 2011)". Statistik Hessen. 31 Desember 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Junie 2021. Besoek op 24 Junie 2021.
  2. (de) "Bevölkerung Metropolregion". Regionalverband FrankfurtRheinMain. 31 Desember 2018. Besoek op 8 Junie 2022.
  3. (de) "Fraport-Verkehrszahlen 2018: Mehr als 69,5 Millionen Passagiere am Flughafen Frankfurt". Lughawe Frankfurt. 14 Januarie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2020. Besoek op 6 Maart 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search